|
Genesis 1:26 LEES Toe het God gesê: "Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip." DINK In die bg. vers lees ons hoe God besluit om die mens te maak. Die eerste wat Hy oor die mens sê is dat hy God se beeld sal wees, en tweedens dat hy sal heers. Ons is gemaak om te heers, vriend! Soos die eerste mens moet ons ook in ons eie wêreld heerskappy uitoefen. Hoekom gebeur dit dan dat ons lewens in sulke chaos is? Wel, omdat ons nie beheer neem nie - omdat ons ons opdrag versaak! Daarom voel ons ook asof alles handuit ruk, en chaos wil oorneem. Neem beheer, vriend! Ons gaan hierdie week hieroor deel, en ons begin by ons dag. Kom ons stel dit so: as ons nie beheer van ons dag gaan neem nie, gaan ons dag beheer van ons neem! Ons het meer ritmes en reëlmaat nodig, roetines en dissiplines. Sekere dinge moet op 'n sekere tyd gebeur. Selfs al het jy die deurmekaarste en onvoorspelbaarste program, moet daar method in your madness wees. Ritme maak jou gees rustig en stel jou in staat om effektief te wees. Beweeg na meer ritme, vriend: vir jou opstaan, jou werk toe gaan, vir God (ja, asseblief), vir etenstyd, huis toe, jou etes, jou aandritueel, jou naweke. Voeg meer intensioneel waarde toe. BID Here, ek stel U in beheer van my lewe; help my om my chaos uit te sorteer. Amen. DOEN Kry jou dag in orde, maar maak ook seker dat daar tyd is vir God (tien minute stilword daagliks is baie werd as jy besig is), en ook vir 'n klein ontspantydjie vir jouself. Sorg dat jy genoeg slaap kry - baie belangrik! © 2010 PADLANGS DEUR DIE LEWE. Alle regte voorbehou.
|