1 Julie 2008

July 1st, 2008

Liewe familie en vriende

Prys die Here, ek is terug in Namibie.  Dit was die langste wat ek nog van my huis en my kinders weg was.  Ek en Quinton gesels nou die dag so, toe voel ons altwee dat ons nie sommer gou weer in die Kaap sal wil gaan vakansie hou nie.  Ons het op die oomblik nie goeie herinneringe van die Kaap nie – dalk voel ons oor ‘n jaar anders.  Ek het mos elke keer as Quinton so siek was laas jaar, alles vir hom neer geskryf.  En as hy dit nou lees, kan hy nie onthou dat dit so erg was nie.  Net so se ek vir hom sal hy oor ‘n jaar oor die oorplanting voel.  Dit is waar wat die Here ons beloof dat Hy ons nie bo ons kragte sal beproef nie.  Toe Quinton so op sy slegste was, het ek baiekeer vir hom daaraan herinner dat hy sterker is as die behandeling en die siekte.
 
Ek het laas vertel dat ek nog die Woensdag sou terugkom en Quinton nog moes agterbly.  Ons is laas Dinsdag toe deur Somerset toe na George en Rita Steyn.  En weet julle hoe bederf daardie twee mense ons toe?  George is oor Quinton soos ‘n hen oor haar kuiken.  Niks is te veel moeite nie.  Ag, ek dink dit is vir Quinton net weer lekker om in ‘n huis te bly met kinders rondom hom en alle normale dinge.  Hy het net nooit meer gaan le deur die dag nie en in die aande tot 22:00 saam met ons gekuier.
 
Woensdag moes hy weer gaan vir bloedtellings en om die prof te sien.  Die prof se toe vir hom dat hy definitief weer ‘n oorplanting November moet kry en dat die kankerpille wat hy die eerste 7 maande gedrink het, nie so effektief gewerk het nie.  Hy gaan hom nou op ‘n ander een sit.  Sy plaatjie-telling is toe af van 42 na 35.  Quinton was baie stil en het nie baie gepraat nie.  Hy kon vir 2 nagte ook nie slaap nie, maar praat nie met my nie.  Donderdag vat ons hom toe ‘n bietjie Wimpy toe.  Hy kry toe darem ‘n halwe ‘kiddies milkshake’ in.  Hy eet nog baie min, letterlik ‘n poedinglepel van elke soort kos.  Hy drink een bottel Powerade in 24 uur en niks water nie.
 
Vrydag moet hy toe weer vir bloed gaan.  Ek skryf toe vir George ‘n klomp vrae neer om vir die suster by die kankerafdeling te vra, want prof praat nie baie nie.  (En Quinton vra nie vrae nie)  Venessa se toe dat sy oorplanting ‘n sukses was.  Daar is Quinton toe so hartseer, want hy het gedink dit was nie ‘n sukses nie, omdat hy November weer een moet kry.  Sy het toe vir hom mooi verduidelik dat hierdie kanker se behandeling die effektiefste werk as jy binne 8 maande 2 oorplantings kry.  Dit is waarom hulle ook genoeg stamselle vir ‘n 2e keer se oorplanting geoes het.  Hy hoef nie weer daardie 25 dae vooraf se voorbereiding deur te maak nie, want daar is mos nou stamselle.  Hulle gaan ook nie weer vir hom hierdie gif van ‘n chemo gee nie, want daar is mos nou nie meer kanker nie.  Prys die Here!!  Weet julle hoe voel Quinton om nou al oor ‘n 2e oorplanting te praat terwyl hy nog in hierdie toestand is?  Ons vind toe ook uit dat hulle ook na die Ne (weet nie hoe ‘n mens die naam skryf nie maar dis die soldate wat in die witbloedselle is) se telling kyk.  En dis die belangrikste telling, want dit is sy immuniteit.  Die telling is toe 0,68 en dit moet ten minste 3 wees voordat hy mag huis toe kom.  Sy plaatjies is toe 30 wat weer laag is (normaal moet dit 400 wees)
 
Ek het Sateroggend gevlieg.  Hy het saam vroeg opgestaan en lughawe toe gery.  Hy was bitter hartseer op die lughawe.  Ai, dit was maar vir my nie lekker om hom so te los nie, maar ek kon nie anders nie.  Sondagaand bel hy my ‘n halfuur voor ons kerk toe gaan.  Hy klink toe so goed – soos die ou Quinton.  Hy wil toe ook sommer met die kinders praat wat hy nooit wou doen nie, omdat hy te hartseer raak.  Hy huil toe sommer weer van blydskap en se hy het ‘n hele McDonald’s hamburger opgeeet.
 
Vandag het hy weer gegaan vir bloed.  Alle tellings is op, ook die plaatjies.  Hy hoef nie ‘n plaatjie-oorplanting te kry nie.  Prys die Here!!  Hy is so opgewonde, want hulle het vir hom gese as sy INR (bloeddigtheid) Woensdag goed lyk, gaan hulle Donderdag die Hickman line uithaal.  Sy bloed mag nie te dun wees nie, want hy kan baie bloei, omdat die pypie van die ‘line’ mos in sy hoof slagaar ingaan.  As dit uit is, is die tyd om huis toe te gaan nie ver nie.  Sy soldate se telling is 0.78, maar hulle se as dit by 1 kom, gaan die telling vinnig op.
 
Sy emosionele toestand is ook baie beter.  Hy kan nog lekker huil, maar dis omdat hy so dankbaar is.  Dis ook deel van genesing.  Ek dink hy sal nog maar lank emosioneel wees, want daar het soveel wonderwerke in hierdie afgelope tyd gebeur.  God is getrou!
 
Ek gaan maar besoekure instel as hy huis toe kom.  Hy is mos maar nog baie swak en sy immuniteit is BAIE laag.  Daarom vra ek dat indien iemand hom wil kom besoek, daardie persoon NIE eers verkoue mag he NIE.  Ek sal bly wees as julle net vooraf sal bel, sodat daar nie meer as 2 persone by hom kom kuier nie.  Ag, ek voel so sleg om dit te vra, maar dis ter wille van Quinton.  Hy is deur soveel dinge en ons ou gesinnetjie wil hom net nou gesond he.  Baie dankie dat ek die vrymoedigheid kan he om dit te vra.
 
Ons se dankie:

  1. Vir almal wat nogsteeds bel en sms
  2. Vir ALMAL wat vir ons so getrou opdra aan ons Hemelse Vader
  3. Almal wat vir ons goed is
  4. George en Rita wat God spesiaal oor ons pad gestuur het

Ek het nou die dag vir my broer gese dit voel of ek op Windhoek se berge kan gaan staan en uitskree:  DANKIE!!  Hoe sal julle ooit besef hoe dankbaar ons teenoor elkeen van julle is?  Julle was absoluut ons GEBEDSKRYGERS in die afgelope paar maande en veral die afgelope 2 maande.  Weet julle, daar kom tye dat ‘n mens nie meer weet wat en hoe om te bid nie.  Ek het baiekeer vir mense gese as hulle vra of ons nie iets nodig het nie, bid maar net.  Dit stop al die gate toe.  Hierdie persoon bid vir dit en daardie persoon bid vir dat en so word daar vir alles gebid.  In Rom. 8: 26 lees ons:  “Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid.  Ons weet immers nie mooi wat en hoe om te bid nie.  Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie”  Is dit nie “awesome” nie???

Bid asseblief vir:

  1. Dat die bloedtellings so sal bly opgaan
  2. Vir al daardie soldate, dat hulle sommer vinnig sal vermeerder
  3. Prys die Here saam met ons!!  Hy is Groot en Almagtig en het hier ‘n wonderwerk gedoen

Ek sal weer skryf sodra ons weet wanneer Quinton huis toe kom.  Ons is lief vir julle almal.  Mag God julle BLESS!!
 
Jesus groete
 
Benita

23 Junie 2008

June 23rd, 2008

Liewe familie en vriende
 
Nou ja, intussen kan ek al amper weer ‘n boek skryf oor wat alles gebeur het. Chris Moller en sy seun het Vrydag hier by ons gekuier. Dit het vir Quinton so baie beteken. Hy waardeer so elke ou kuiertjie (al le hy partykeer toe oe en raak sommer weg), oproep en sms. Op die oomblik is hy BAIE emosioneel. Hy huil oor alles! Dr. Zietsman het dit vir my so mooi beskryf. Sy het vir my gese om vir hom te se hy moet nooit vergeet dat sy emosionele toestand eenhonderd persent normaal is, maar sy fisiese toestand is abnormaal. Hy huil as iemand vir hom ‘n mooi sms stuur, of bel en ek die boodskap oordra (hy kan glad nie oor die foon praat nie - eenvoudig net te emosioneel) of iemand hom kom besoek. In elk geval, dit kom toe daarop neer dat ons NIKS geweet het wat alles vir ons voorle nie. Ek voel dat hulle vir kankerpasiente wat ‘n beenmurgoorplanting moet kry, vooraf ‘n bietjie berading gee. Ook vir die familie, want ons het niks geweet wat om te verwag nie. Ek sou ook graag vooraf wou weet wat alles in die isolasie-eenheid gaan gebeur. Hulle het vir Quinton papiere gegee, maar dit was glad nie lees-vriendelik nie. Alles het ook nie daarin gestaan nie. En miskien moes ons ‘n bietjie meer geweet het van ‘bloed’. Dit is ongelooflik gekompliseerd. Het julle al “How great is our God” gekyk van Louie Giglio? Doen julle self die moeite en kyk hoe wonderlik God ‘bloed’ gemaak het.
 
Nou ja, Quinton moes mos toe Dinsdag gaan vir bloedtoetse. Hy was so swak toe ons moes gaan. Hy kon skaars by die kar kom. Daar gekom, het ek maar vir hom ‘n rolstoel laat haal. Hulle het hom net so een kyk gegee daar by die chemo afdeling, onmiddelik vir prof gebel en die boek hom toe in die hospitaal in sonder om hom te sien. Hy het die vorige nag weer erg diaree gehad en hulle het nie vir ons pille daarvoor gegee nie. Hy was toe gedehidreer. Sy plaatjie-telling was weer baie laag en moes toe weer plaatjies kry. Hy was so swak, naar en het toe nog vreeslike koorsblare op sy lippe en ken ontwikkel. Sy witbloedtelling val weer tot 1.8. Hy word toe opgeneem in die gewone hospitaal in ‘n kamer langs ICU. Hy kon nie in ‘n gewone saal le nie, want onthou sy weerstand is nog baie min. Elke aand vanaf 16.00 begin hy vreeslik naar word al gee hulle vir hom iets daarvoor. Elke keer as hy klaar opgegooi het, is hy so uitgeput dat hy die res van die aand net slaap.
 
Donderdag is sy plaatjies weer af na 29, sy witbloedtelling op na 3 en HB 8.8. Hy kry nog elke dag die spuite wat sy stamselle help om te groei. (Dit sien ‘n mens in die witbloedtelling) Ons wil graag die prof sien, want ons moet met hom gesels oor wanneer ons kan terugvlieg (ek besef dat Quinton nooit nou kan teruggaan nie, want hy is eenvoudig te swak) Ek moes ’n retoer kaartjie koop as buitelander. Wel, prof is toe die heeldag in vergaderings en ons sien hom nooit. Maar die Here bly getrou. Voordat ek enige reelings maak, sms my sus my en se dat ek net moet se as ek langer wil bly, haar baas het gese sy moet net vroegtydig reel. Anri van der Merwe, een van my mammas in die skool stuur ’n sms en se kastig sy sal baie jaloers wees as ek nou al terugkom, want sy het nou so lief vir die kinders geraak. Ek stel ons kaartjies uit na volgende week Woensdag. 
 
Vrydagoggend vroeg kom prof en se Quinton moet weer plaatjies kry. Hy stop die spuite vir die witbloedselle, want dit onderdruk ook die plaatjie-telling asook die feit dat hy so min eet. EN … hy mag weer huistoe. Hy kry nie meer so erg koud nie. Onthou, die weer is goor. Dit reen en reen en reen.
 
So wil die naar en die diaree nie stop nie al drink hy handevol pille. Satermiddag is hy weer so naar. My vriendin, Louise bel en vra of haar suster se pastoor nie vir Quinton kan bel nie. Sy bel toe en bedien hom toe met ’n wonderlike gebed en vertel vir hom hoe hy die Here die heeltyd moet prys. Sy liggaam is die tempel van God vandat Hy God aangeneem het. En die Heilige Gees woon nou daar. Daar is nie plek vir naar of enige ander siektes in God se tempel nie. Prys die Here!! Dis die eerste aand wat hy nie opgooi nie. Hy voel so goed dat hy omtrent vir 2 ure langs my op die bank kom sit en TV kyk. Hy se vir my toe die pastoor (Maureen) bel, het hy aanvanklik gedink hy voel so sleg, kan die foon se battery tog nie maar pap word nie. Kyk hoe werk die duiwel. Maar God het oorwin!!
 
Sondagoggend eet hy eers 8.30 ontbyt (‘n Klein bakkie pap) SONDER DAT HY VOORAF ‘N NAARPIL GEDRINK HET!! Prys die Here. Hy voel bietjie pap en le maar die heeldag. Ek neem sy bord kos af wat hy middagete eet. Ek gaan dit vir hom in sy album plak dat hy eendag kan sien hoe min hy geeet het. (Hy het toe die hoedervlerkie gelos) Ek is ‘n kwaai suster, het Vrydag vir die hospitaal personeel gese ek wil Maandag twee “pips” op my skouer he. Ek moet so hard en streng wees, anders eet en drink hy niks. Nog ‘n wonderwerk…. Hy wil glad nie ‘n naarpil he voor aandete nie. In God se tempel is daar nie plek vir dit nie!! Wonderlik!
 
Vandag is dit Maandag 23 Junie. Ons moes vroeg by die hospitaal wees vir bloedtoetse. Quinton voel goed en stap tot by die kar en die hele ent pad by die hospitaal tot by die chemo-afdeling. Sy bloedtellings lyk goed!! Prys die Here!! Sy HB is op na 9.3. Sy plaatjies staan op 42, dit beteken dit het vanself gegroei. Sy witbloedselle is af na 1.6. Onthou in hierdie telling sien mens of die stamselletjies groei. Dit is nog die heeltyd kunsmatig laat groei deur die spuite. Nou moet dit vanself groei. Dit is normal dat die telling sal af totdat die liggaam self inskop. Ons besluit dat ek maar nogsteeds Woensdag sal terugvlieg. Prof wil Quinton Woensdag namiddag sien en dan moet hulle weer tellings vat. Ek weet dit is nie vir Quinton lekker dat hy nie saam met my kan terugvlieg nie, maar ek se vir hom dat dit beter is dat hy nog ‘n tydjie hier bly. As enige iets gebeur, is hy by die prof. Sodra die prof met alles tevrede is, haal hulle ook die Hickman line uit. Dan moet alle oorplantings verby wees. Die Here se tyd is ALTYD perfek!
 
Quinton gaan vanaf Woensdag by George en Rita Steyn is Somerset bly. Hulle het laasjaar vanaf Windhoek hierheen verhuis as gevolg van George se mediese toestand. God het hulle absoluut oor ons pad gestuur. Almal is so goed vir ons. My vriendin Mariette se broer en ouers bly ook hier in die Kaap. Hulle wil ook so graag he Quinton moet by hulle gaan bly. Ek weet Quinton gaan in goeie hande wees. Rita wil net vir hom Oxtail en pampoenkoekies kook. Ons wonder baie hoe ‘n mens ooit vir ALMAL wat vir ons so goed is, kan terugbetaal?? Al wat ons kan doen is om God te vra om julle te ‘bless’!!
 
Dit was vir my ook nie aldag maklik nie. Ek praat baie met die Here, dan vra ek Hom: Praat met my harder, Here, ek kan nie hoor nie. Ek moet al die besluite doen. Ek moet Quinton positief hou. Ek moet hom motiveer om te eet en drink. (Hy gaan vir ten minste 2 maande nie honger of dors word nie en alles gaan vir hom soos karton/rubber proe.) Ek moet hom gedurig herinner dat kos medisyne is. Hy moet dit inkry. Hy praat die minimum. Ek raai maar as hy die bed hoer of laer wil he. Ek moet vir hom se, kom ons gaan stort gou of borsel jou tande. (Quinton wat so erg oor bad of tandeborsel is) Daar is eenvoudig nie krag vir iets nie. My boude sal maande vat om te herstel - van sit. Ek het in my lewe nog nie so baie gelees nie. (Miskien op skool laas) Nou die dag lees ek ’n boek ’What you say is what you get’ van Don Gossett. ’n Ongelooflike boek. Sy vrou het Rumatiekkoors gehad en het op haar laaste gele met voete 3 keer dikker as normaal geswel. Hy moes bedank as pastoor om na haar en 3 kinders onder 3jaar om te sien. Een aand lees hy Ps 27:1 en spring op en se vir haar hy het die oplossing. Sy moet opstaan en se: “The Lord is the strength of my life”. Aanvanklik was sy eers te swak, later het sy met soveel geloof opgestaan, geloop en dit oor en oor herhaal. Voor hulle oe keer haar voete na normaal, verdwyn haar koors en genees sy eenhonderd persent. Ek lees dit toe vir Quinton voor en se hy moet dit ook oor en oor se. Hy se dit toe ’n paar keer, maar raak toe sommer weer gou aan die slaap. Na ’n tydjie word hy wakker en vra hoe gaan die versie nou weer. Ek se dit weer vir hom. Nadat hy die vierde keer vir my vra hoe die versie gaan, besef ek hy is te swak. Ek bid toe sommer net daar en se vir die Here Quinton is te swak, kan ek dit maar namens hom se? En so se ek dit toe elke kort kort vir die Here. “The Lord is the strenght of Quinton’s life”. Prys die Here!! Sy hele genesing is ’n wonderwerk. Mag God ons help om hierdie GROOT GETIUENIS uit te dra. En mag ons nooit vergeet dat ons TOTAAL afhanklik is van Hom nie, elke asemteug is ‘n genade.
 
Ek glo nie ek sal weer die kans kry om ietsie te skryf voordat Quinton huistoe kom nie. Dankie vir elkeen wat getrou vir ons opgedra het. Julle sal NOOIT besef hoe sterk dit ons gemaak het nie. GEBED DRA KRAG!! Ek gaan nie weer die hele lysie van bedankings tik nie. Ons se nogsteeds vir ALMAL dankie soos in die vorige briefie uiteengesit! Julle is vir ons kosbaar en ons is so ontsettend lief vir julle almal.
 
 Bid asseblief vir:
 
 1. Dat Quinton sy kragte sal herwin, soos God wil.
 2. Dat sy plaatjie- en witbloedtelling sal opgaan, van krag tot krag!
 3. Dat hy nie so sal sukkel om te eet en drink nie. Dit is medisyne!
 4. Dat dit nie vir hom swaar sal wees sonder my nie. Dit is vir my ‘n geweldige besluit.
 5. Prys God dat Quinton se naar en diaree gestop het. Dit was ‘n wonderwerk.
 
 ALLE EER AAN GOD! Ons is swak en nietig. Mag ons nooit hoogmoedig raak oor hierdie genesing nie.
 
 Mag God julle almal ryklik seen, meer as wat julle kan hanteer!!
 
 Jesus-liefde
 
 Benita

17 Junie 2008

June 17th, 2008

Daar het alweer amper 2 weke verloop vandat ons laas ietsie geskryf het. Dit was maar net moeilik, omdat ek elke oggend so gou ek kan hospitaal toe gaan en in die aande eers donker daaruit kom. Ek het die eerste keer dat ons hospitaal toe ry om vir die kinders te gaan wys waar Quinton gaan le, net in die kar bly sit en huil. Ek het vir die Here gevra hoe ek ooit in hierdie Kaap sal kan bestuur? En weet julle, vandat ek aan ‘n motor se stuurwiel gevat het, het ek dit net reggekry. Ek het nog nie eenkeer verkeerd gery nie. In die aande huistoe, ry ek maar deur ‘n baie gevaarlike lang straat. Nou die aand het drie mans voor my oor die straat gehardloop en die een het met sy hand gemaak asof hy na my kar skiet. Die Here is getrou en het my beskerm.
 
 Ons het laas vertel dat Quinton die buisvoeding gekry het. Ek is die Sondag huis toe. Terwyl ek hom groet het ek gevoel dat hy baie warm is. Daardie week was vir hom baie swaar. Sy witbloedtelling was vir ongeveer 10 dae 0, en vir 4 dae was sy koors om en by 40. Hy kan nie veel onthou nie. Ek het in die aande met hom gepraat, maar kon ook niks agterkom nie omdat hy mos maar gesukkel het om te praat. Hulle het vir 3 dae, dag en nag by hom gewaak. Ek moet se, die personeel daar is ongelooflik!! ‘n Mens raak later soos familie. Elke keer sal hulle se: Mnr. Botes, jy doen goed. Jy’s fantasties! Jy’s ‘n ster van ‘n pasient! Ek het laas Sondag weer teruggekom en was nogal geskok toe ek hom sien. Hy het nogsteeds ‘n koors van 39.6 gehad. Weereens het ons net besef wat die krag van gebed kan doen. Ek het vir ‘n paar mense sms’s gestuur en ALMAL het gebid. Vanaf Woensdag het hy nie meer koors gehad nie. Hulle het ook vir hom onder morfien gehou en hy het vreeslik gedroom. Die chemo wat hulle vir hom net voor die oorplanting gegee het, Melphalan, het Hitler in die 2e Wereldoorlog as gif gebruik om die Jode dood te maak. Dit is regtig ‘n gif!!
 
 Sy tellings gaan baie stadig op. Sy witbloedtelling moet 3 wees voordat hy uit die isolasie-eenheid mag gaan. Die prof se as dit by 1 kom verdubbel dit gewoonlik, maar syne wou nie. Sy HB was ook Woensdag maar 3.4. Dis VREESLIK laag. Sy bloedplaatjies gaan op tot so 44 en dan val dit weer tot 22. So hou dit die heeltyd aan. Hulle het vir hom 2 keer bloedoortappings gegee en 3 keer bloedplaatjies. Saterdag se die prof uit die bloute dat as die bloed Sondag goed lyk, mag Quinton huis toe gaan. Sy 2 groot vriende, Jacques en Boeta kom spesiaal vir hom kuier uit Namibie (Vrydag) Waar sien jy 3 groot manne huil? Dit was vir hom so spesiaal. Hulle was net uit toe kom kuier Francois en Jacomine. Dit het hom so goed gedoen. Saterdag het hy vir die eerste keer ‘n fliek gekyk en bitter min geslaap. Maar die duiwel het mos nie ‘n lui haar op sy kop nie. Sondag toe ek daar kom, sien ek hy is pap. Sy bloeduitslae was toe nie so goed nie. Maar die Here is getrou!! Prof se hy kan maar huis toe gaan en gee ‘n klomp opdragte. Hy was so bewoe toe hulle hom daar uitstoot! Vir 3 weke het hy 24 uur per dag net die 4 mure van sy kamer gesien. Hy het onder in die put gaan draai en nooit gedink dat 3 weke so vinnig, maar tog ook so stadig sal verbygaan nie.
 
 In sy boek waarin ek elke dag vir hom ‘n bemoedigende Woord skryf, is verse soos:
 “Want wanneer ek swak is, is ek juis sterk. My eie swakheid leer my om net op Christus se Groot Mag staat te maak” 2 Kor. 12:10 “Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan die wat Hom liefhet” Jak. 1:12 Ag, ons het soveel bemoediging in die Woord gekry. Ons het net daardie vrede ervaar wat God vir ons in Filip. 4:6-7 belowe. En ons kan nie vir Hom genoeg dankie se dat hierdie hele oorplanting ‘n wonderwerk was nie en dat Hy Quinton lankal reeds genees het nie. Ek weet dat Quinton ‘n GROOT getuienis gaan wees! Prys die Here daarvoor!!
 
 Ons bly op die oomblik weer in my broer se woonstel. Hy is maar baie swak, want sy liggaam moet nou self begin weerstand opbou en sterk word. Hy was vir 3 weke permanent aan ‘n drup gekoppel (partykeer 5 sakkies goed wat deur die Hickman line ingaan) Hy moet Dinsdag gaan vir bloedtellings, Woensdag vir die prof gaan sien en Donderdag weer vir bloedtellings. Ons vertrou die Here vir BAIE goeie tellings. Ek kan nie meer langer hier in die Kaap bly nie. Ek was nou al ‘n maand lank van my skool af. En ek kan Quinton ook nie alleen laat vlieg nie. Hy is te swak.
 Ons wil baie graag DV die naweek teruggaan na ons huis, ons kinders en ons mense. Ons verlang vreeslik. Quinton is al vanaf 17 April in die Kaap.
 
  Bid asseblief saam met ons:

 1. Dat die ou naar gevoel sal wyk. Quinton sukkel so om te eet of te drink.
 2. Dat sy bloedtellings so sal optel, meer as wat enige een verwag.
 3. Dat sy liggaam sal kragte opbou sodat ons die naweek kan huistoe gaan.
 
 Ons wil dankie se:

 1. Vir almal wat vir ons gedurend hierdie tyd so ongelooflik ondersteun het deur sms’s te stuur of te bel. Julle name staan almal in Quinton se boek.
 2. Almal wat vir ons gebid het. Quinton noem julle sy gebedskrygers. Ons sal nooit weet wie julle almal is nie, maar mag God julle seen. GEBED HET KRAG!
 3. Honderde mense het vir ons dinge aangebied. Enige iets onder die son. Ons het dalk nie van dit gebruik gemaak nie, maar ons waardeer julle opreg.
 4. Vir Oddo en San (my broer en sy vrou) vir julle blyplek en toe Quinton in die hospitaal was, ‘n kamer vir my en elke aand ‘n heerlike bord kos.
 5. Avis vir ‘n motor. Dit het so baie vir ons beteken.
 6. My sus Belinda, wat haar hele vakansie opoffer om na my kinders om te sien die laaste 2 weke. Sy’s ‘n sjef en ek hoor net van al die geregte wat gemaak is.
 7. Die mammas wat my skool hanteer in hierdie tyd, sonder dat dit vir hulle enige moeite is. Julle is vir my kosbaar en ek is baie lief vir julle.
 8. Vir Leoni van Rensburg wat Quinton se arms en bene is. Niks is ooit vir haar moeite nie.
 9. Kanaal 7 wat dit vir ons moontlik maak om met julle te kan gesels.
 10. Aan God ALLE eer! Dankie vir TOTALE genesing! Mag ons dit NOOIT vergeet nie.
 
 God seen julle!!
 
 Benita

8 Junie 2008

June 9th, 2008

Daar het intussen baie gebeur nadat ons die vorige webblad getik het.  Ons het nie altyd toegang tot die internet nie.  Vra omverskoning.

As ons so terugkyk wat die afgelope 3 weke gebeur het, dan kan ons net die Here se Naam groot maak.  God is ALTYD getrou en beproef jou nooit bo jou vermoens nie.

Ek gaan probeer om net so kortliks vir julle deur te gee hoe die behandeling verloop het vandat ons laas gesels het.

Op 7 en 8 Mei het Quinton mos aggressiewe chemo gekry wat 90% van al die kankerselle wat in sy liggaam was, dood gemaak het.  Hy was die eerste aand naar, maar die naar medisyne het baie goed gehelp.  Hy het vir so ‘n week nie ‘n eetlus gehad nie en die kos het anders gesmaak.  Op 13 Mei het hy met die Neupogen inspuitings begin wat hy 2x per dag vir 10 dae vir homself gespuit het.  Die spuite het gehelp om nuwe stamselletjies te produseer wat dan in sy bloed opgeneem word.   Op dag 8 het hulle die telling getoets, toe is dit 6.5.  (Dit moet 20 wees voordat hulle begin oes)  Hy moes toe die volgende oggend 4:00 opstaan, hom spuit en 8:00 by die hospitaal wees vir nog ‘n toets.  Sy telling is toe 17.  Dit was al klaar ‘n wonderwerk.  Die suster sê toe dat dit dalk 2 dae gaan neem om die selle te oes, aangesien die telling nog nie 20 is nie.  Die prof se toe hulle moet maar probeer.  Binne 5 ure het hulle genoeg geoes vir 2 keer se oorplanting (aangesien Quinton oor 6 – 8 maande weer ‘n oorplanting moet kry)  Is God nie getrou nie?

Op 22 Mei het hy die Hickman line gekry.  Hulle maak ‘n gaatjie in sy bors en sit dan ‘n pypie tot in sy aorta.  Sy hande was blou en geswel van alle naalde wat daar ingegaan het.  Nou kom alles deur die pypie.  Daar is 2 pypies aan die buitekant.  Deur die een toets hulle elke dag sy bloedtelling.  Deur die ander pypie gaan alle goed in (medisyne, stamselle, ens.)

Op 25 Mei is Quinton toe eers in ‘n normale saal in.  Daar het hy pre-hidrasie begin ontvang vir die chemo wat voorle.  Op 26 Mei om 10:00 is hy toe in isolasie.  Hulle het vir hom so 14:00 chemo gegee.  Dit was ‘n klein sakkie, maar BAIE BAIE aggressief.  Die namiddag toe die prof hom kom besoek, se die prof ewe vir hom hy lyk so gesond.  Hy se toe vir die prof “Die gesondste dag in 8 maande. Dit voel nie of ek kanker het nie”.  Hy het glad nie naar geword nie, want hulle het weer vir hom naar medisyne gegee.  Die Dinsdag het hulle weer vir hom so 12:00 dieselfde chemo gegee.  Die tipe chemo maak elke lewende selletjie (gesond of siek) in jou liggaam dood.  Dinsdagnamiddag het sy liggaam so begin ruk.  Ons dink toe maar dis die skok van die chemo op die liggaam.  Woensdag om 12:00 het hulle hom begin gereed maak vir die stamseloorplanting.  Dr. McDonald het die oorplanting gedoen.  Dit het so ongeveer 25 minute geduur om dit terug te sit.  Die dokter het vir so 10 minute uitgegaan.  Quinton het net met sy oe toe gele.  Ek het na daardie sakkie stamselle gekyk en so bewoe geraak.  Vir 8 maande het ons gewag vir hierdie dag.  Ek het God gevra om elke nuwe baba-selletjie te seen en honderdvoudig te vermenigvuldig.  Ek het alles afgeneem.

Die namiddag het Quinton erg naar begin word en baie erg geruk.  Toe hulle later die spyskaart vir die volgende dag bring wat hy moet invul, het hy regop gesit met sy kop in sy hande.  Die volgende oomblik het hy uitgebars in trane.  Hy sê toe:  “Pokkel, ek kan eens nie die spyskaart invul nie.  Dit maak my naar net om dit te lees”  Die prof het later gekom.  Quinton se liggaam het toe onbeheersd geruk.  Hul dink toe dat hy half allergies is vir daardie duur naar medisyne en dat dit sy spierbeheer aantas.  Hul moes dit toe minder maak.

Vanaf Donderoggend het Quinton niks ingeneem nie (deur sy mond) – tot vandag.  Die middag 14:00 het hulle besluit om vir hom buisvoeding te gee.  Hulle het eers vreeslik gesukkel om dit in te kry.  Hulle het toe maar na 10minute die buisie eers uitgetrek en ‘n nuwe een gaan haal.  Ek het so hard gebid, want ek het hom so jammer gekry.  Die volgende buisie het eenvoudig net afgegly.  Ek se toe sommer kliphard:  Prys die Here!  Die een suster lag en se:  En al die tyd sit en bid mev. Botes.

Vrydagoggend toe hulle hom weeg, het hy reeds 6 kg verloor.  Hy het maar Vrydag, Saterdag en Sondag net toe oe gele.  Die buisie in sy keel af maak hom nog meer naar.  Hy praat die minimum.  Hy le ook die heeltyd, want sodra hy regop sit, word hy naar en bring op.

Ek het vir hom so ‘n klein joernaal seker so 2 maande terug gekoop waarop daar staan:  Stand firm in your faith.  Hy het vanaf die 30e April met elke behandeling alles opgeskryf hoe dit was en hoe hy dit ervaar het.  Dit was vir my so kosbaar dat hy tot die Vrydag nog elke keer onderaan die dag se ervaringe God geloof en prys het.

Sondag moes ek terug vlieg.  Dit was vir my ‘n geweldige besluit.  Op daardie dag het dit met hom die slegste gegaan.  Hy het al die buisvoeding opgegooi (hy het toe maar vanaf Donderdag ‘n halwe liter in – dit is darem baie gekonsentreerd)  Hy het die hele tyd geslaap wat ek daar was.  Ek het maar vir hom ‘n lang briefie sit en skryf.  Hoe neem mens afskeid van iemand wat so siek is??  Ek het vir hom in sy kankerboek op elke bladsy ‘n datum geskryf vir die week wat voorle met elke dag ‘n stukkie Woord wat gedurende die 8 maande oor hom uitgegaan het. Onderaan moet hy elkeen wat hom gedurende daardie dag bel en sms se naam neerskryf.  Hy het dit gedoen.  Ongelukkig kon hy nie die telefoon antwoord nie, maar hy het julle sms’s gelees en dit het hom deur die week gedra.

Dinsdagaand het hy ‘n laagtepunt beleef.  Hy was verby moedeloos.  Ongelooflik baie mense het vir hom ingetree.  Dit laat my keel toetrek as ek besef hoeveel vriende en kennisse ons het in hierdie land.  Elkeen wat my teekom, bied iets aan.  Hoe kan ons ooit DANKIE se?  Al wat ek kan vra, is dat die Liewe Vader elkeen van julle sal seen, omdat julle vir Sy kinders goed is.

Ek vlieg weer Sondag Kaap toe.  Dit was weereens vir my ‘n geweldige besluit. Al hierdie besluite put my geweldig uit, maar gelukkig hou julle gebede ‘n mens staande. Ek sou eers die 13e gevlieg het, maar het besluit om vroeer te gaan, omdat ek voel dat Quinton my nou nodig het.

Woensdagaand het hy beter geklink op die telefoon.  Hy se dat daar tydjies in die dag was dat die naar draagliker was.  Sy bloedtelling was 0.  Onthou, alles is dood gemaak en toe is die stamselle ingeplant.  Dit veg nou teenmekaar.  As die telling op 0 kom, dan eers kan hulle sien of die stamselle groei.  Ons loof die Here, want Hy het elke selletjie reeds geseen.

Hy het nog geen newe-effek van die oorplanting gekry nie.  Ons prys die Here hiervoor.  Baie pasiente kry kristalle in die urine, erge sere in die mond sodat hul tande losraak, lae of hoe bloedsuiker, ens.  Quinton is gesond wat al hierdie dinge aanbetref.

Ek sal volgende week weer uit die hospitaal laat weet hoe dit gaan. 

Ons dank gaan aan:

  1. Elke liewe mens wat ons in gebed opdra.

  2. Almal wat sms en bel.

  3. Elkeen wat iets aanbied – mens staan verstom wat alles!!

  4. Avis wat vir ons vir die res van die tyd ‘n kar in die Kaap gaan gee.

  5. Die mammas wat weer vir my by my skool gaan instaan.

  6. My sus, Belinda, wat my kinders hierdie keer gaan oppas.

  7. Aan God al die eer, wat reeds vir Quinton gesond gemaak het!!

Bid asseblief:

  1. Sy bloedplaatjies is laag. 

  2. Dat hierdie ongelooflike naarheid sal weggaan.

  3. Dat sy nuwe stamselle sal floreer soos ons daarvoor gebid het.en dat daar geen infeksies sal kom nie.

God Bless!!!!!!!!

Benita

Paar Fotos van Quinton


Stamselle word geoes


Hickman line

 


Gevriesde stamselle

So lyk ek nou


Stamselle word teruggesit                     

So lê ek maar die meeste van die tyd

Tyd vir sports was daar ook:


Oppad hospitaal toe 

Gielie, nou lyk ek soos jy!

20 Mei 2008

May 22nd, 2008

Ek is vandag al ‘n maand en 2 dae in die Kaap. Ons het heerlike weer gehad tot 4 Mei. Van toe af is dit reen en mis. Die son het miskien 5 dae geskyn in die tyd. Dit laat mens net meer verlang na ons sonskyn land, Namibie.

Vandat ek laas geskryf het, het alweer baie dinge gebeur. Ek het intussen aggressiewe chemo gekry. Eers 3 liter pre-hidrasie vir 24 uur, dan 2 liter aggressiewe chemo in 2 ure, weer 3 liter pre-hidrasie vir 24 uur en toe weer 2 liter aggressiewe chemo in 2 ure. Ek was altesaam 46 uur op drup. Dit was die eerste keer dat ek chemo gekry het en het nie geweet hoe my liggaam dit sou hanteer. Die eerste dag se chemo was skaars in, toe begin ek naar word. Dit was baie erg, maar deur die Here se genade het dit net 4 ure aangehou. Ek het glad nie naar geword van die 2e dag se chemo nie. Daar het egter ‘n onderliggende naarheid my bygebly vir 4 dae. Die chemo se naam is Etoposide.

Op die oomblik spuit ek my 2x per dag met Neupogen. Dit versterk en ondersteun die witbloedselle en maak die stamselle los vanuit die murg en laat dit vry in die bloed. Die stamselle sal dan op 21 Mei vanuit die bloed geoes word. Dit duur die heeldag. My liggaam reageer goed op die spuite, maar my stamseltelling bly laag. Dit was vandag 6.5 en dit moet ten minste 10 wees. Hoe hoer hoe beter.

Donderdag die 22e Mei word ook ‘n pypie, genaamd die ‘Hickman line’ in my bors ingesit wat loop tot in die Aorta. Daardeur kry ek dan my volgende pre-hidrasie, chemo, stamselle word daardeur teruggesit, en bloed daardeur getrek. Hulle doen dit omdat die chemo jou are laat platval en dit maak die are ook bros.

Ek gaan soos die Here wil die 25e Mei in isolasie. Die volgende chemo wat ek kry, is Melphalan. Dit is nog aggressiewer as die eerste, want nou moet al die murg platgeslaan word (die murg word doodgemaak). Die 28e Mei word my skoongemaakte stamselle terugesit.

Benita en die kinders was die heeltyd by my tot die 11e Mei. Hulle moes toe terug, want die skool het mos die 13e begin. Dit was nogal vir my baie moeilik om alleen agter te bly. Ek is nie iemand vir alleenwees nie. Ek is ‘n mens-mens. Vandat ek die eerste chemo in isolasie gehad het, was ek ook baie emosioneel. Ek was maar 2 dae in isolasie, nou gaan ek vir 3 weke in isolasie wees. Dit is vir my ‘n kop-ding, maar ek glo tog die Here sal my ook hierdeur dra.

Benita is nou weer by my. Sy het net die kinders en haar skooltjie gaan regsien, en toe maar weer gekom. Sy sal nou by my bly tot die 1e Junie. Ons glo dan is die ergste verby. Ek gaan dan nog vir 2 weke in isolasie wees.

Dit is vir die kinders ook maar ‘n opoffering. Hulle bly op die oomblik by Elric en Louise Pretorius. Ons wou die heeltyd hulle beskerm van enige ongerief of hartseer, maar besef dat ‘n mens nie altyd kan nie. Net nou die dag voor ek geweet het van my kanker, gesels ons so met die kinders. Ons praat toe so oor die seer in ander mense se huise - hoeveel kinders kom uit gebroke huise. Ons is so ‘n gelukkige gesin - lief vir mekaar, ens. En nou gebeur so iets en jy voel jy wil die kinders net beskerm. Ons glo dat ek en Benita sterker mense anderkant gaan uitkom. Tot ons nou die dag met iemand hier in die Kaap gesels en toe tot die besef kom, maar die kinders gaan ook sterker anderkant uitkom. Hulle dien die Here en sal dit kan
hanteer. Dit is ‘n groot stuk genade!!
Ons is dankbaar:
1. Vir elke sms en oproep wat nogsteeds hier aankom.
2. Vir elke gebed. Julle is my gebedkrygers!!!
3. Ons bly in my swaer se woonstel. Dolf en Sandra is vir ons ongelooflik goed. Die
tyd wat Benita in Namibie was, het ek elke dag heerlik by hulle gaan eet. Ons
maak ook van hulle kar gebruik.
4. Daar is 5 mamma’s in Benita se skool wat haar skooltjie nou hanteer. Sonder om
te skroom het hulle aangebied om dit te doen. Julle is vir ons kosbaar!! (Barista, Anri, Erika, Annelize en Sonet)
5. Willem Moore wat soveel moeite maak om vir ons emosioneel deur hierdie ding te
dra.
6. Die selgroep manne onder leiding van Matt Ludick.
7. Elric en Louise Pretorius wat bereid was om na ons kosbaarste besittings (kinders) om te sien.
8. Ons dank die Here dat ek die beste voel in 8 maande. Dit is so goed dat ek so
sterk is voordat ek in isolasie gaan. Aan God al die eer!!

Bid asseblief:
1. Dat my stamseltelling sal optel en dat die oes daarvan glad sal verloop.
2. Vir die volgende rondte van chemo.
3. Vir die terugsit van die stamselle, dat dit spoedig sal groei.
4. Dat ek nie infeksies of enige siektes sal optel nie.
5. Dat dit vir my draaglik sal wees in isolasie. Ek voer ‘n stryd met die alleenheid.
Ek weet dit gaan vir lang tye net ek en God wees.
6. Vir my familie. Dit is nie aldag vir hulle lekker nie. Dat hulle net sterker
anderkant sal uitkom.

21 Mei

Dit is alweer ‘n dag later. Ons het nie ‘n kans gehad om die epos te stuur nie, aangesien ons baie vroeg by die hospitaal moes wees vir die oes van die stamselle. My witbloedtelling/stamseltelling was mos gister maar 6.5 en dit moet eintlik so 20 wees voordat hulle dit oorweeg om te begin oes. Ons het maar vroeg gegaan om te kyk of die telling al op is. En daar is die telling 17!! Prys die Here!! Hulle koppel my toe dadelik aan die masjien (ek noem dit sommer die karringmasjien aangesien my bloed die heeltyd deur die masjien loop en dan oes hulle die stamselle daaruit). Aangesien my telling nie baie hoog was nie, het hulle gese ek sou dalk die hele dag le en weer die volgende dag. Na 5 ure se oes het hulle genoeg stamselle gehad vir 2 keer se oorplanting. God is getrou!!!! Dankie vir almal wat help bid het.!

Nou ja, dit is eers al. Tot ons volgende stukkie.

GOD BLESS!!!

5 Mei 2008

May 8th, 2008

Liewe Namibiers

Ons is op die oomblik nou in die Kaap - al vanaf 18 April. Met die baie datums wat ons aanvanklik gekry het, sou Quinton die 18e uit die isolasie eenheid kom. Ons het toe vir ons ‘n plekkie bespreek op ons RCI punte vir die tyd wat hy dan nog in die Kaap moes bly vir observasie. Nou ja, nou het ons vir amper 2 weke vakansie gehou en het dit nie vir Quinton goed gedoen nie. Ek se vir hom vandag hy lyk so goed en is so sterk soos hy die hele 8 maande nie was nie. Is die Here nie getrou nie? Hy was BAIE siek toe ons hier aankom. Ek moes vanaf Windhoek tot in die Kaap bestuur. Ek dink hy was baie naby aan bronchitis. Ons hele familie was bymekaar en het gehalte tyd met mekaar gehad. Ons pa het die ’n kans gehad nie. So loop hy maar elke dag dan deur hierdie ’mall’, dan deur daardie ’mall’. Ek dink hy is nou lekker fiks.
 
Quinton het die 30e April verjaar en het op daardie dag begin met die hele vooraf beplanning vir die oorplanting. Sy verjaarsdag persent was ’n beenmurg biopsie. Omdat hy al een in Windhoek gehad het, het hy so half en half geweet wat vir hom voorle, maar was dit vir hom ’n ontnugtering! Hulle wou vir hom ’n halfuur voor die tyd ’n spuit gee vir die pyn, maar sou dan vir ongeveer 3 ure lomering wees. Die biopsie is eers 17:30 gedoen. Ons sou die aand gaan uiteet saam met my broer-hulle. Hy vat toe nie die spuit nie. Hy se hy het later warm gloede gekry en gesweet! Dit voel vir hom of sy hele bekkenbeen in daardie naald in opgetrek word. 
 
Vandag, 5 Mei het hy ‘n long- en hart funksie toets ondergaan. Dit het nie 10 minute geduur nie. Die rekening? R1375.00!! 
 
Die professor is baie tevrede met Quinton se fisieke toestand. Hy is positief dat alles ‘n sukses sal wees. Quinton moet weer ‘n beenmurg oorplanting oor 6 - 8 maande kry. Dit is blykbaar die verloop van hierdie kanker. Die prof het ook gese dat hierdie soort kanker weer na 3 - 7 jaar sy verskyning maak. Ons glo as God hom een keer genees, is dit vir ALTYD!! 
 
Ons sal volgende week weer ietsie skryf. Hoe hy die chemo gevat het. Hy gaan eers die 25e Mei in die isolasie eenheid.
 
Terwyl ons so by die hospitaal sit en jy kyk so om jou rond, is dit skrikwekkend om te sien hoeveel mense kanker het. Van Klein kindertjies tot stokou mensies. Dan besef mens net weer hoe dankbaar ons elke dag moet wees as jy gesond is. Dit is net genade!!
 
Ons het vir Quinton en Sonja Kotze met Klein Jessica gaan kuier. Dit gaan so goed met haar. Die Here het haar ook wonderbaarlik aangeraak. Kan ons vra dat julle sal bid vir Quinton vir ‘n werk. Hulle het 14 ure per dag by Jessica se bed gewaak en kon dus nie eintlik werk nie. Ons glo en vertrou God gaan hulle hierin ook voorsien.
 
Baie dankie vir almal wat nogsteeds bid en aan ons dink. Dis vir ons vreeslik hier. Hier’s duisende Moslems en in elke eetplek is daar ‘n ‘Halaal’ sertifikaat op. Ons besef net weereens ons bly in ‘n wonderlike land met wonderlike mense.

Mag God elkeen van julle ryklik seen. Ons is lief vir Namibie en al sy mense!
 
Quinton, Benita en kroos
 
Jes. 29: 11, 13 

“Ek weet wat Ek vir julle beplan, se die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.”

15 April 2008

April 15th, 2008

Ons het lanklaas van ons laat hoor omdat ons van die Kaap af wou epos en nou is ons nogsteeds hier.  Ek het gedink ek sou al middel Februarie af gaan vir my behandeling, maar so het Februarie gekom en gegaan, Maart het gekom en gegaan, April het gekom en uiteindelik laat hulle ons weet dat my behandeling op 30 April sal begin.

Ek aanvaar dit so, want ek het vir die Here gevra om die datums vir ons uit te werk.  Die Here werk stadig, maar altyd op tyd.  Nou dat ons ‘n datum het maak dit dat ons beter kan beplan en dit bring tog ‘n bietjie gemoedsrus.  Ek besef dat die behandeling nie elke dag maklik sal wees nie, maar soos Dawid gese het, “Met my God loop ek ‘n bende storm en spring ek oor ‘n muur”

Die behandeling begin op 30 April, nogal op my en Quinita(my dogter) se verjaarsdag met ‘n beenmurg biopsie.  Verskillende toetse volg dan wat long funksie en hart insluit en 7-9 Mei sal ek Etopocido kry 3 x per dag.  Vanaf 13 Mei kry ek dan vir 10 dae die Neupogen spuite 2 x per dag en op 21 Mei word my stam selle geoes.  22 Mei sit hulle die Hickman lyn in, 25 Mei “Pre-hydration” en 26-27 Mei word die murg in my liggaam platgeslaan.  Op 28 Mei word my eie stam selle weer d.m.v. ‘n drup teruggeplaas en bly ek in isolasie t.e.m. 16 Junie 2008.  Dit is maar ingewikkeld en klink redelik woes, maar ek het ‘n vrede oor my soos wat in die Woord beskryf word.  Ek weet vir die meeste van die tyd sal ek net Jesus he om mee te praat en ek glo dat ek deur die hele proses nader aan God sal beweeg en dat my geloof ook verder versterk sal word.

My familie, vir wie ek so lief is en wat vir my baie kosbaar is, sal darem by my wees tot die skole op 13 Mei begin.  Ek sien baie daarna uit om terug te kom en is opgewonde oor wat die Here vir my lewe beplan.  “Omdat Hy leef, sien ek kans vir more!!!”  “Die Here wat my teen die kloue van leeus en bere beskerm het, sal my ook teen hierdie Filistyn (kanker) beskerm.”  1 Sam. 17:37

As die Here wil, ry ek en my familie op die 17e April af Kaap toe.  Ons het vir ons plek bespreek in die Kaap vanaf die 18e April aangesien dit aanvanklik die tyd was wat ek uit isolasie sou kom.  Nou het ek darem so 2 weke tyd om met my familie te kuier voordat al hierdie goed met my gebeur.  Ek glo dit was ook die Here se wil.

Weereens wil ons net vir ieder en elk dankie se vir julle gebede en ondersteuning.  Weet net dat ons julle ook elke dag opdra sodat julle ook ryklik geseen sal word.  Ons weet nie meer hoe om dankie te se nie.  Dankie klink nie meer genoeg nie, maar weet net dat God julle sal seen.

Ons se dankie:

  1. Almal wat vir ons bid en ondersteun!!

  2. Almal wat nogsteeds sms’s stuur of oproepe maak.

  3. Vir alle koeverte, vleis, ens. ens. wat by ons huis afgelaai word.

  4. Vir Kanaal 7 vir die gebruik wat die webtuiste.

  5. Al ons vriende vir wie dit net nooit te veel moeite is om ons te ondersteun nie.

  6. Aan God ALLE eer dat Sy tyd altyd perfek is.  Dat Hy ons deur 7 maande nooit laat voel het ons is op ons eie nie.

Ons as gesin wil Psalm 91 gee aan almal wat siek is, probleme het of net hartseer is.  Verklaar hierdie Psalm elke dag oor jou lewe. Lees net die eerste 2 verse:

“As jy na die allerhoogste God toe gaan dat Hy jou moet oppas, kan jy van een ding seker wees:  Die Almagtige God sal jou bewaar.  Jy kan vir die Here se:  “U beskerm en bewaar my. U is my God op wie ek vertrou.

5 Maart 2008

March 6th, 2008

Nou ja, oor 15 dae is dit al 6 maande dat ons weet dat Quinton kanker het. Die tyd het omtrent gevlieg. In slegte tye voel dit mos lank, maar nou dat ons daardeur is, voel dit soos nou die dag.

Ons wag al amper 6 weke om te hoor wanneer Quinton kan gaan vir sy oorplanting. Ons het 3 weke gewag vir ʼn kwotasie van die professor, toe 2 weke van die hospitaalplan en nou weer vir ʼn datum. Nagte le ek wakker en werk datums uit en beplan ek hoe en wat en wanneer alles gedoen moet word. Dan dink ek in sirkels. En elke keer bid ek tot God en se ek los alles in Sy hande, maar kyk hoe ongelowig is ons as mens. So probeer ek nogsteeds uitwerk. Ons is ongeduldig omdat ons so moet WAG. En weet julle, alles gebeur met ʼn doel.Quinton het vanaand met die professor self gepraat. Ons het gedink dat dit darem seker volgende week sal wees. Weereens was ons verkeerd. Hy se vir Quinton die beddens is vol met baie siek mense. As ons gelukkig is, sal Quinton einde Maart ingaan, anders eers begin April. En toe ek op die almanak gaan kyk, sien ek dat as Quinton begin April met die behandeling begin, gaan ek net 2 weke nie by my skool wees nie en my kinders hoef net 2 weke by ander mense te bly. Die skool sluit dan en dan kom al ons kinders Kaap toe en ons familie is bymekaar totdat Quinton uit isolasie uitkom. Is God nie getrou nie?? Sy tyd is altyd perfek!!! Ek het dan gebid dat Hy vir ons sal help om die dinge uit te werk. Hoe skaam kry ons nie?

As Quinton begin met die behandeling gaan hulle vir hom pypies inplant (ons neem aan dis in sy lies sodat hulle die stamselle daardeur kan trek en ander behandelings kan toedien). Hy gaan dan chemo kry en word dan vir 12 dae huis toe gestuur. Hy moet elke dag vir hom 2 keer self spuit om sy witbloedselle te versterk met Etoposide. Hy moet ook gaan vir hart, longe, ens. toetse. Ons bly dus in die Kaap vir daardie tydperk, want hulle wil hom monitor. As dit klaar is, begin hulle dadelik met die oes van die stamselle, die BAIE sterk chemo, die res en dan in isolasie en die terug plant van sy eie selle.

Ons praat baie daaroor dat ons wonder hoe mense wat nie die Here ken nie deur sulke krisisse gaan. Iemand baie na aan my het eenkeer vir my gese, ‘julle Christene moet ophou om vir iemand wat terminaal siek is, te se God sal jou gesond maak. Hou op om vir so ʼn persoon hoop te gee’. Gelukkig ken ek my God. Jer.29.11 se, ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan, se die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ʼn toekoms gee, ʼn verwagting!’ 2 Kron. 16:9 ‘Die Here het Sy oë oral op die aarde sodat Hy die kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou’ Hoop is ʼn krag in ons lewe. As ons nie hoop nie, kan ons nie leef nie.

God wil graag dat dit met ons goed gaan, en as dit partykeer nie so uitwerk nie, kan ons seker weet Hy is besig met Sy langtermyn-plan wat langtermyn-seen inhou. Ware hoop begin dikwels eers daar waar alle ander bronne van hoop uitgeput is. In gebrokenheid voor God. Daarom kan gelowiges anders hoop as die wêreld en kan Paulus skryf: Jesus Christus ons hoop. Mense wat self die krag van hoop in hul lewe ervaar, kan die hoop in ander help wakker maak.

Archibald Hart, ʼn Amerikaanse prediker het gese, ‘Hoop is vir die siel wat suurstof vir die liggaam is!’

Hoop sonder geloof kan nie hoop wees nie. As ʼn mens hoop sonder geloof, wens jy. As jy hoop met geloof, weet jy. En ons weet, dis net iets wat jy voel diep binne jou – met sekerheid!

Ek gaan terwyl Quinton in die Kaap is probeer om elke tweede dag of so, ʼn kort verslaggie oor sy behandeling en vordering hier deur te gee. Baie mense het daarvoor gevra. Ons wil net weereens vir ieder en elk wat nogsteeds sms’s stuur, telefoonoproepe maak, voorkeer en vra, geld in ʼn koevert sit, ens. ens. BAIE DANKIE se. Daar kom nogsteeds elke liewe dag boodskappe. ʼn Mens sal dink dat die mense na 6 maande al ʼn bietjie sal ophou, maar dit het nog nooit. Net gister het Quinton baie hartseer gese hoeveel LIEFDE daar nog in hierdie land van ons is. Ongelukkig kan ons nie op alle boodskappe reageer nie, dis net te veel. Maar ek skryf elke persoon se naam in sy boek. Daar kom ongelukkig baie sms’s deur met geen naam onderaan nie. As hy daar in die hospitaal le en hy lees sy boek, gaan hy julle name lees. En hy gaan lekker huil, net omdat julle omgee en vir hom bid.

Ons se dankie:

  1. Dis al 6 maande dat Quinton gediagnoseer is en dit gaan so goed met hom. Die ou senuwee-stelsel word nou al erg aangetas en die bene is maar kragteloos en hy lyk nou al soos ʼn Orosmannetjie van al die kortisoon, maar God bly getrou.
  2. Dat God se tyd ALTYD perfek is!
  3. Vir ALMAL wat ons ongelooflik ondersteun.
  4. Vir God, dat Hy vir ons voorspoed beplan en nie teenspoed nie!!

Kan julle saam met ons bid vir:

  1. Dat daar GEEN komplikasies sal wees met die behandeling nie.
  2. Vir krag en kalmte vir Quinton dat hy nog 3 weke sal uithou.
  3. Vir Jesica Kotze, dat haar beenmurgoorplanting hierdie keer ʼn sukses sal wees. Vir haar sussie wat vir haar die beenmurg gaan skenk. Vir haar pappa en mamma, met wie dit op die oomblik finansieel baie sleg gaan. Ons wil hul graag gaan besoek in die Kaap. Indien enige iemand dalk vir hulle ʼn finansiële bydrae wil maak, kontak ons asseblief.

7 Februarie 2008

February 7th, 2008

Ope brief van Benita( Quinton se Vroutjie Doutjie)

Baie mense vra my hoe ek en die kinders oor Quinton se kanker voel.  Ons het alreeds genoem dat ons aanvanklik so min geweet het – so dat ons nie eers geweet het dat hulle met ʼn beenmurgbiopsie vir kanker toets nie.  Op 18 September het die dokter vir Quinton gesê dat daar êrens kanker in sy liggaam is.  Ons het die aand al die kinders in die kombuis bymekaar gekry en dit aan hulle verduidelik, min het ons toe geweet dat dit eintlik baie ernstig was. 

Gewoonlik as ek hoor dat iemand dood is of kanker het, dan voel dit mos vir jou of iemand jou in jou wind geslaan het.  Die dag toe dr. Zietsman vir Quinton sê dat hy hierdie kanker het en dat die gemiddelde lewensverwagting maar 3 jaar is, het niemand my wind uitgeslaan nie.  Ek was ongelooflik kalm, tot vandag toe.  Daarvoor gee ek alle eer aan die Here. My vriendin het vir my alles rondom Multiple Myeloma op die internet gesoek en uitgedruk.  Sy was baie hartseer om dit vir my te gee en het vir my gesê dis baie negatief.  Ek het toe die papiere vir ʼn ander vriendin van my gegee wat bietjie iets van medies af weet.  Sy het my ook ontwyk en gesê sy weet nie of ek dit moet lees nie.  Dit was die 21ste Sept.  Daardie aand was ek alleen in die huis.  En toe begin die duiwel met ‘se nou maar…’  Ek het hom in die naam van Jesus uit my gedagtes verban, opgestaan, die papiere gaan opskeur en kliphard gese:  Dit is wat die Mediese Tegnologie van hierdie siekte sê.  My Geneesheer sê dat Hy klaar aan die kruis gesterf het vir ALLE siektes.

Ek is baie keer BAIE moeg.  My daaglikse take gaan normaal aan.  Ek probeer dit vir die kinders ook so normaal as moontlik hou.  Die eerste 3 maande toe Quinton so baie siek was, het ek die meeste nagte so tussen 3 – 4 ure se slaap ingekry.  Die meeste aande was ek so moeg dat ek nie eers kon bid nie.  Deur die dag vra ek honderd keer die Here om dit vir Quinton draagliker te maak, ens.  ʼn Mens kom op ʼn punt dat jy net oorgee aan die Here.  En as ek so bitter moeg is, dan wonder ek hoe ek die volgende môre gaan opstaan en skool hou.  Weet julle, en die Here was elke dag getrou.  Ek sê baie keer vir mense as hulle sê hoe hulle vir ons bid dat dit die rede is waarom ek so baie woema het.  Ek staan soggens op en voel of ek 10ure geslaap het.  Dankie aan julle wat so vir ons intree!!

My kinders vat dit goed.  Ons is so gelukkig dat ons kinders al drie die Here dien.  Dit sê ek nie om te spog nie, maar dis ʼn groot stuk genade.  En in Sy Woord beloof Hy ons dat Hy ons nooit bo ons vermoë sal toets nie.  In Fil. 4:13 lees ons:  Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.  En ons kry ELKE liewe dag daardie krag.  Ons eer God daarvoor.

Ek kan nie vir julle sê watse ongelooflike mense bly in hierdie mooi land van ons nie.  Ek maak vir Quinton ʼn ‘kanker boek’.  Daarin skryf ek alles van dag 1 af in.  Elke persoon se naam wat gebel het, of ʼn sms gestuur het, of kom besoek het, of iets gebring het, ens.  Maar die waardevolste is elke Woord wat oor hom uitgegaan het.  Dit is al bladsye vol.  Vir hierdie mense kan ons net vra dat God hulle ryklik sal seën.  As Quinton daar in die ‘glaskas’ vir 3 weke alleen moet lê, gaan dit al wees wat by hom gaan wees.  Sy eie Woord.

Daar is ook so hier en daar mense wat negatief is.  Mense wat bel en sê,  ja ons is nou al op daardie ouderdom wat ons maar kan doodgaan.  Of mense wat negatief praat oor kanker, ens.  Van daardie mense vertel ek nie eers vir Quinton nie.  Ons spreek lewe.

Daar is mense wat wonder of hy regtig siek is, omdat hy elke dag op die radio praat en so goed klink.  Ek weet hoe hy baie keer met baie moeite uit die bed opstaan en dan hang my mond ook oop as ek hoor hoe hy praat, maar 10minute later slaap hy alweer.  Desember het dit met hom baie goed gegaan by die see.  Ons het die 4de Januarie teruggekom.  Hy het Januarie omgeslaap.  Die 23ste het hy vir die eerste keer krag gehad om vir ʼn halfuur voor die rekenaar te kan kom sit om al sy e-posse af te trek vanaf begin Desember af.  Dit was al geblok.  Hy was nie siek nie.  Het net nie krag gehad om sy kop op te lig nie.  Al sy fisiese werk moes hy afstel.  Gelukkig kan hy nog praat.

Ek weet daar is mense wat vrae het oor die fonds wat vir hom gestig is.  Ons het ʼn hospitaalplan.  Quinton wou van ons eiendom verkoop om vir sy operasie te betaal.  Ander mense het die fonds vir hom gestig.  Mense wat hom ken sal weet dat hy ʼn gee-mens is en glad nie ʼn ontvang-mens nie.  Die dag wat hulle die fonds gestig het, het hy soos ʼn kind in die kombuis sit en huil.  Ook met die dinee wat nou ten bate van die fonds gehou word het ons niks mee te doen nie.  Quinton wil nie eers die aand gaan nie.  Dis vir hom ongemaklik.  Hy se elke keer dat hy wil graag ander kanker patiente ook eendag daaruit help. 

Quinton het Prof. Novitzky op die 28 ste in die Kaap gaan sien.  Hy sal DV vanaf die 18 de Februarie begin met die beenmurg oorplanting.  Hulle gaan vir 6 ure sy eie stam selle oes, die sterkste Chemo kry, van sy beenmurg trek, dit bestraal en op sy stam selle plant, die ander murg in sy liggaam doodmaak en dan sy eie beenmurg terugsit.  Dit duur maar 15 minute.  Hy sal ongeveer 20 dae in isolasie wees.  Alles sal ongeveer so 8 weke duur.  Die prof. sê dat die kanker al 5 jaar in Quinton is.  Oor 6 maande gaan hulle dan weer ʼn beenmurg oorplanting doen.  Die prof. sê dat Quinton dan ongeveer nog so 10 jaar kan lewe.  Quinton wou hom sê dat sy Pa in die hemel maak vir eenkeer klaar gesond – nie om later weer siek te word nie.

Ons sal verdere inligting deurgee sodra ons meer duidelikheid het.

Graag wil ons weereens dankie se vir:

  1. Almal wat lewe spreek oor Quinton

  2. Nog steeds vir ALLE gebede, sms’s, oproepe, ens.

  3. Vir almal wat ons so ongelooflik ondersteun, ons familie, ons vriende, alle ouers by Kelkiewyn Preprimêr.  Mag God julle ryklik seen!!!!!

  4. Die HB-telling is die hoogste ooit – 12.4

  5. Aan Kanaal 7 vir hierdie geleentheid wat hulle vir ons daar stel om inligting deur te gee en om te kan getuig oor God se goedheid.  So baie mense bel en dit maak dit net vir ons geriefliker.

  6. Aan God alle eer.  Quinton het eenkeer vir Peter Pollock lughawe toe gevat.  Hy sê toe dat sodra ʼn mens dink dat jy nederig is, is jy verwaand.  Mag God gee dat ons deur alles ons oë net op Hom sal hou.

25 Januarie 2008

January 25th, 2008

Net gou ‘n kort stukkie om u mee te deel dat die profesore in die Kaap my op Maandag 28 Januarie om 17:00 kan sien. Ek vlieg Sondag af en behoort so 5 dae uit sirkulasie te wees. As ek terug is sal ek alles met u deel, ook die pad voorentoe en die toetse wat hul gedoen het. Ek het ook vir vroutjie doutjie gevra om ‘n paragraaf te skryf om haar gevoel en opoffering as metgesel en ondesteuner/vrou met u te deel.

Dankie vir al u gebede en ondersteuning ons waardeer dit opreg.

Bid asb dat alles goed sal afloop in die Kaap en dat selfs die Medisie verstom sal staan.
Ons gee alle eer aan God, Hy wat ons eerste lief gehad het en wat reguit kan slaan met ‘n krom stok.
Ek is maar net n instument in sy hand en elke dag is vir my ‘n bonus en ‘n geskenk van my Hemelse Vader.