Oorsig 15 November

 

Yolanda Nel  

 

Prostaatkanker gevalle neem vinnig toe in Namibië, en gesondheidsdeskundiges beklemtoon die belangrikheid van vroeë opsporing. ‘n eenvoudige bloedtoets wat nou by beide private en staatsgesondheidsinstellings beskikbaar is, stel mans ouer as 40 in staat om vroeg op moontlike probleme te toets, wat behandelingsuitkomste aansienlik verbeter.

 

 

President Nangolo Mbumba het gister die Sikondo-besproeiingskema, Uvhungu-Vhungu-besproeiingsprojek en die Mashare-besproeiings- en Bloubessieprojek in die Kavango-Oosstreek besoek. Hierdie besoek beklemtoon Namibië se verbintenis om werkloosheid aan te pak, droogte-uitdagings aan te spreek en volhoubare landbou-ontwikkeling in die streek te bevorder. President Mbumba het die erns van vanjaar se droogte beklemtoon, wat hy beskryf het as “ongekend.” 

 

 

Die Namibië Instituut vir Openbare Administrasie en Bestuur (NIPAM) het begin met ‘n  leierskaps opleiding seminaar wat gemik is op leierskap vermoëns deur belanghebbendes in beide die privaat en openbare sektore. Die geleentheid bied interaktiewe besprekings deur prominente leiers wat hulle kennis deel oor praktyke in die moderne samelewing. 

 

 

Die Stad Windhoek kondig met trots die eerste jaarlikse Windhoek Stads-Kapanafees aan – ’n viering van Namibië se kulinêre erfenis. Die fees vind plaas op Vrydag, 22, en Saterdag, 23 November van 10:00 in Onafhanklikheidslaan plaas, voor die Munisipale Hoofkantoor.  Onder die tema “Proe Plaaslik” sal die fees Namibië se  straatkoskultuur ten toon stel, met heerlike geure van sagte beesvleis tot pittige souse. 

 


Die Ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste het aangekondig dat die Top Score kitspap wat in Oktober herroep is, veilig is vir gebruik en handelaars dit nou mag verkoop. Die terugroep het gevolg na die dood van drie kinders in Suid Afrika, maar Ben Nangombe sê daar is vasgestel dat die produkte veilig is. Die Ministerie het twee verskillende monsters van onafhanklike labaratoriums ontvang wat bewys het dat die produk veilig is vir verbruik. Die Ministerie en Maatskaplike dienste en Plaaslike Owerhede is ingelig dat produkte nou weer op rakke geplaas kan word.

 

 

Afrika se getal woud- en savanna-olifante het die afgelope 50 jaar met onderskeidelik 90- en 70-persent afgeneem. Dit is volgens navorsing wat in die vaktydskrif, Proceedings of the National Academy of Science, gepubliseer is.  Die studie het data gebruik van 475 bevolkingsopnames wat tussen 1964 en 2016 in 37 lande gedoen is. 

 

 

Wetenskaplikes het die grootste koraal wat nog aangeteken is in die Salomonseilande in die suidwestelike Stille Oseaan gevind. Die mega-koraal is moontlik ouer as 300 jaar en groter as ‘n blouwalvis. Die koraal is ‘n spesie bekend as Pavona clavus en bied ‘n tuiste aan garnale, krappe, visse en ander seediere. 

 

 

Die voormalige Amerikaanse visepresident, Al Gore, glo Donald Trump se tweede termyn in die Withuis sal ‘n minimale uitwerking op die wêreld se stryd teen klimaatsverandering hê. Trump het met sy terugkeer beloof om die Verenigde State ‘n tweede keer van die Paryse Ooreenkoms te verwyder, en dus hierdie week ‘n skadu oor die Verenigde Nasies se COP29-klimaatgesprekke in Baku gegooi.

 

Related Post