Oorsig 12 November

Yolanda Nel  

  

Die bekendstelling van ’n nuwe publikasie oor myn-gesondheid en -veiligheid beklemtoon die kritieke risiko’s en uitdagings waarmee mynwerkers landwyd te doen kry. Die publikasie, wat ontwikkel is met insette van bedryfsleiers, regeringsamptenare en gesondheidsadvokate, bied insigte en aanbevelings om veiligheidsprotokolle te verbeter en werksomstandighede landwyd te versterk.


Die Voorsitter van die Verkiesings Kommissie (ECN), Elsie Nghikembua, sê lede van Namibië se uniform magte, diplomatieke sendings en seevaart personeel, sal op 13 November hulle stemme uitbring voor die nasionale verkiesings op 27 November vanjaar. Die ECN verwag dat ongeveer 8 duisend geregistreerde kiesers more sal stem. 

Die Stad Windhoek het twee belangrike Memorandums van Verstandhouding met Welwitchia Universiteit en die Namibië Lughawe Maatskappy (NAC) onderteken om groei in onderwys, infrastruktuur en innovasie aan te dryf. Beide ooreenkomste sal Windhoek se strategiese doelwitte versterk en ontwikkeling oor belangrike sektore bevorder.

Die Sustainable Business Forum Namibia (SFBN) poog om plaaslike besighede te bemagtig deur hul begrip van volhoubare praktyke te verbeter en nuwe markgeleenthede te identifiseer om winsgewendheid te verhoog. Die gesprekke fokus op strategieë om besighede vir die toekoms te beveilig en volhoubaarheid in die sakewêreld te verseker vir die voordeel van toekomstige generasies.


Die Ministerie van Mynwese en Energie van Namibië het gister (MAANDAG) bevestig dat twee aardbewings die naweek in die land aangeteken is. Die eerste aardbewing het Saterdag net na 9 in die oggend ongeveer 27 kilometer suidwes van Gross Barmen naby Okahandja voorgekom. ‘n Tweede aardbewing het vroeg Sondagoggend, 10 November, om 12:14 plaasgevind, ongeveer 10 kilometer suidwes van Opuwo. Beide aardbewings is op ’n vlak diepte van minder as 10 km aangeteken

‘n Keiserpikkewyn is die eerste keer in Australië aangetref, meer as drie-duisend-500-kilometer noord van die Antarktiese kus. Die wangevoede, volwasse mannetjie, wat Gus genoem word, is op ‘n toeriste-strand in die dorp Denmark in die suidweste van die land gekry. Die keiser is die grootste pikkewynspesie. Belinda Cannell van die Universiteit van Wes-Australië sê die spesie is nog nooit tevore in die land aangemeld nie.

Die Kremlin ontken berigte dat Amerika se gekose president Donald Trump verlede week per telefoon met president Vladimir Putin gepraat en hom gewaarsku het om nie die oorlog in Oekraïne te vererger nie. Volgens die Washington Post het Trump tydens die oproep vir Putin herinner aan Washington se groot militêre teenwoordigheid in Europa. Die koerant berig ook Trump wil binnekort verdere gesprekke voer om ʼn oplossing te vind vir die konflik in Oekraïne. Die Kremlin sê die berigte is suiwer fiksie.


Die bekende sjef, Jamie Oliver, het sy nuwe kinderboek van die rakke onttrek na besware dat dit inheemse Australiërs stereotipeer. Die fantasieroman, Billy and the Epic Escape, handel oor ʼn Australiese inboorling-meisie met geheime kragte wat in pleegsorg is, wat uit haar huis in sentraal-Australië ontvoer word. Volgens die uitgewer, Penguin Random House UK, het Oliver versoek dat inheemse Australiërs oor die boek geraadpleeg word, maar “redaksionele versuim” het meegebring dat dit nie gebeur nie. 

Related Post