Oorsig 13 November

 

 

Rhona Gouws 

 

 

Alles was vanoggend gereed vir die spesiale stemmery in Oshana en Omusati. Amon-Oiva Haimbangu, die streekverkiesingsbeampte van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN), sê die spanne was gereed om die kiesers te bedien. Die spesiale stemmery in Oshana is  gelei  deur sewe beamptes per span wat by twee stemlokale, die Oshakati-polisiekantoor in Oshakati-Wes en by die Oluno Gemeenskapsaal in die Ondangwa-stedelike kiesafdeling diens gedoen het. Stemlokale het vanoggend sewe-uur oopgemaak en sopas gesluit.

 

 

 

Ueituaravi Heuva wat verbonde is aan die Buitelandse Sake Kantoor sê stemmery het vanoggend 7-uur in die onderskeie lande begin, met uitsonderings op plekke soos New York, Washington, Kuba en Brazilië, wat agt ure agter Namibië is.  Van die diplomatieke sendings was Kaapstad aan die voorpunt, met die meeste aantal stemme wat uitgebring is, gevolg deur Ondjiva in Angola.  

 

 

 

Die Ministerie van Geslagsgelykheid, Armoedeverligting en Maatskaplike Welsyn doen ‘n beroep op alle streeks- en plaaslike owerheidsrade en ander belanghebbendes om te help met die uitrol van die Voorwaardelike Basiese Inkomste-toelaag (GBIG). Die uitrol het Maandag van hierdie week begin.

 

 

 

 

Die 71 persent toename in uitvoer van tafeldruiwe word as beduidend beskou, aangesien landbou een van Namibië se sleutel ekonomiese sektore is. Die Namibia Grape Company (NGC) en die globale vrugte-uitvoerder Cape-span het tafeldruiwe-uitvoere van een-komma-vier miljoen kartonne in 2017 tot twee-komma-vier miljoen kartonne vanjaar laat toeneem.

 

 

 

Werkgewers wat nie bydra tot die Maatskaplike Sekerheid Kommissie (SSC) se fonds nie, veroorsaak dat werknemers nie voordele van die kommissie ontvang nie. Die opmerking is gemaak tydens ‘n bewusmakings ontbyt wat bygewoon is deur belanghebbendes in Windhoek. Die SSC se voorsitter Markus Kampungu sê werkgewers voldoen dikwels nie aan die vereistes nie.

 

 

 

Die Voormalige vissermanne, Daniel Nailonga en Johny Nefungo, wat na die Fishrot korrupsie skandaal hulle werk verloor het, het gesê die krisis het hulle lewens ernstig geraak.  Dit het ook ‘n effek op hulle emosionele toestand wat lei tot frustrasies en geslagsgeweld.  Sommige vissermanne het reeds selfmoord gepleeg. Hulle het gepraat tydens die bekendstelling van die tweede verslag oor menseregte en die impak op die Fishrot skandaal deur die Instituut vir Openbare Beleids Navorsing.

 

 

 

Die SAOG Sekretariaat sê vroue polisie beamptes in Suider Afrika bly onder-verteenwoordig in veldtogte om oorgrens nasionale georganiseerde misdaad te beveg. Die Suider Afrika Streeks Polisie Hoofde Samewerkings Organisasie  (SARPCCO) vergader op Swakopmund vir ‘n bemagtigings sessie. Die Skakelbeampte van SARPCCO-SAOG se Sekretariaat,  Simbarashe Manjera, sê sy glo die werkswinkel sal grootliks vroue se kennis en leierskap vaardighede versterk in die geveg teen georganiseerde misdaad.

 

 

 

Netbal: Netbal Namibië sal die gesogte Afrika Nasie Netbal Beker van 9 tot 14 Desember by die MTC Dome in Swakopmund aanbied. Die toernooi sal van die beste netbal spanne in Afrika bymekaar bring. Die Afrika Nasie Netbal Beker is goedgekeur deur die Wêreld Netbal Organisasie en sal alle deelnemende lande help om hulle posisie op die internasionale ranglys te verbeter. Netbal Namibië het ‘n plaaslike kommitee saamgestel wat uit professionele persone bestaan met die nodige ondervinding om as span te dien onder voorsitterskap van Conny Samaria.

 

Related Post