Rhona Gouws
Die Raad van Kerke in Namibië (CCN) se Sekretariaat is besig met voorbereidings vir ‘n Nasionale Gebedsdag vir Namibië se opkomende nasionale verkiesings. Die algemene sekretaris van die CCN, Ds James Fredericks, sê daar word gekyk na twee gebeds geleenthede op dieselfde dag. Die datum waarop die verrigtinge sal plaasvind, sal spoedig bekend gemaak word.
Die Hardapdam-oord naby Mariental, wat ’n verskeidenheid wateraktiwiteite bied, het ’n afname beleef weens die lae waterpeil in die dam. Namibia Wildlife Resorts se woordvoerder, Nelson Ashipala, sê die besettingsyfer oor die afgelope drie maande was omtrent 11 persent. Ashipala sê die droogte het nie net boerdery en voedselproduksie geraak nie, maar ook toerisme, veral kampering.
NamWater het kontrakte onderteken vir die vervanging van die Ogongo–Oshakati-pyplyn om watervoorsiening in Noordelike Namibië te verbeter. Die projek van N$236,8 miljoen behels ’n nuwe 53-kilometer pyplyn om hoër druk te hanteer en toekomstige aanvraag-groei te ondersteun.
Die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Dr Peya Mushelenga, sê Rusland en Afrika moet ekonomiese vennootskappe bevorder om gesamentlike voorpoed te verbeter. Hy sê beleggings en handels volumes moet verbeter word deur die Afrika Kontinentale Vrye Handels Gebied, wat die wêreld se grootste handels vrye gebied is.
Die Uitvoerende Direkteur van die Ministerie van Onderwys, Kuns en Kultuur, Sanet Steenkamp, het haar misnoë uitgespreek oor ‘n video op sosiale media wat wys hoe jong mans in skool uniforms drank gebruik. Sy het gesê dat dit ontstellend is en as ‘n gemeenskap, en nasie moet ons bekommerd wees oor die boodskap wat op so ‘n manier verkondig word, om hierdie gedrag te normaliseer. Steenkamp sê skool uniforms bring ‘n gevoel van eenheid wat nagestreef behoort te word.
Die Voormalige Minister van Justisie, Sacky Shanghala en sy mede-beskuldigde in die hoëprofiel Fishrot korrupsie verhoor, is toegelaat om hulle saak te stel van die prokureur se tafel af in die hof in plaas van die “hok” soos Shanghala dit noem. Hy het onlangs ‘n aansoek ingedien volgens Afdeling 149 van die Strafproses Wet, wat vereis dat hy buite die hofhokkie verhoor moet word.
Die Keetmanshoop Munisipaliteit het 10 huise oorhandig aan begunstigdes in die Tseiblaagte 7-woongebied as deel van die Bou Saam-projek. ter waarde van 80 duisend dollar. Keetmanshoop se adjunkburgemeester, Anneline Knaus, sê dat die munisipaliteit sedert die desentralisasie van die Bou Saam-projek in 1998, 334 huise onder die projek gebou het om gesinne te help om ‘n plek te vind wat hulle hul tuiste kan noem.
Die vierde jaarlikse Gondwana Moonraker Ridge Hardloop roete het die naweek plaasgevind met Thomas Miller en Ottilie Aimwata in die eerste plek in die mans en vroue 21 kilometer roete. Miller het die afstand in 1 uur 40 minute en 40 sekondes afgelê met Jason Johannes wat klaargemaak het op 1 uur 54 minute 2 sekondes. Aimwata se tyd was 2 uur 17 minute en 10 sekondes gevolg deur Liezel Steenkamp met 2 uur 29 minute en 5 sekondes