12 Apr. 2024
Die Ministerie van Onderwys, Kuns en Kultuur het ‘n Memorandum van Verstandhouding met die Namibia Craft Centre aangegaan om die Alte Feste te omskep en op te knap. Hierdie gebou, staan as die oudste gebou in Windhoek wat beduidende historiese waarde vir Namibië inhou. Met hierdie inisiatief word beoog om die historiese gebou te laat herleef, en sal na voltooiing spog met ‘n museum wat die geskiedenis vertel, ‘n handwerkmark, ‘n kunsgalery, opleidingswerkswinkels, kunsateljees, ‘n restaurant of kafee, en ‘n binnehofgeleentheidsruimte en -kantore. As gevolg van die gebou se historiese betekenis, steun die Amerikaanse ambassade deur middel van sy Kulturele Bewaringsfonds hierdie inisiatief entoesiasties. ‘n Bedrag van 250 duisend Amerikaanse dollar is gister amptelik oorhandig vir hierdie doel.
Die opknappingsprojek sal in fases gedoen word, met die eerste fase wat daarop fokus om die struktuur te stabiliseer en dit funksioneel te maak vir diverse aktiwiteite. Amerika se Ambassadeur in Namibië, Randy Berry het tydens die bekendstelling van die Alte Feste-opknappings- en herbestemmingsprojek gesê, hy glo dat wat vandag van stapel gestuur is, ‘n blywende en positiewe impak sal hê om nuwe lewe in die gebou te blaas.
Marlise Izaaks