Namibiese Rugby Skeidsregters Akademie (NRRA) bekendgestel

Namibiese Rugby Skeidsregters Akademie (NRRA) bekendgestel post thumbnail image

17 Mar. 2024


“Ons wil dit nie vir onsself hou nie, ons wil die outjies oplei en dit so ver as moontlik uitrol”. (Frik Engelbrecht)


In Namibië, ‘n rugbyliefhebber nasie, is daar een groot frustrasie met skeidsregters, maar dit kan nou vorentoe iets van die verlede wees met die bekendstelling van die Namibiese Rugby Skeidsregters Akademie (NRRA). Die idee vir so ‘n akademie het ontstaan deur die feit dat die land net ‘n handjie vol rugby skeidsregters het en daarom die behoefte om meer Namibiese skeidsregters van top gehalte op te lei. Die NRRA sê Namibiese skeidsregters is tans nie naby aan internasionale standaarde nie, wat veroorsaak dat plaaslike skole- en senior rugbyspanne gefrustreerd is, en ook onseker is oor wat hulle in sekere situasies op die veld kan en nie kan doen nie.


Die rugbykomitee van Windhoek Gimnasium het in ‘n poging om ‘n oplossing te bied, die Suid-Afrikaanse Rugby Unie (SARU) genader, en in besonder mnr. Deon van Blommestein, wat verantwoordelik is vir die ontwikkeling en kwaliteitbeheer van skeidsregters by SARU. Van Blommestein het aangebied dat SARU sal help om die probleem aan te spreek – en fisies by die proses van opleiding van skeidsregters betrokke sal wees. En so het die droom van meer gekwalifiseerde Namibiese skeidsregters begin.


Frik Engelbrecht, die voorsitter van Windhoek Gimnasium Rugby, sê die Akademie word met die volle samewerking en ondersteuning van die Namibië Rugby Unie en ander belangrike rolspelers soos die Namibiese Skeidsregters Vereniging op die been gebring. Die doel is om die akademie eers op skoolvlak te begin en die droom is verder om Namibiese skeidsregters op so ‘n standaard op te lei om klubwedstryde te blaas, maar ook om internasionale platvorm te bereik.


Ander sleutel doelwitte van die NRRA sluit in; om skeidsregters op alle vlakke van die sport te verbeter, om afrigters en skeidsregters in lyn te bring, aanspreeklikheid te skep, ‘n geloofwaardige skeidsregter-handelsmerk te bou, nasionale spanne, senior en skole te ondersteun sodat hulle internasionaal op gelyke voet kan meeding, aantal gekwalifiseerde skeidsregters te verhoog, asook om ongelukkigheid en frustrasies te verminder wat deur refs veroorsaak word.


Jong mans tussen die ouderdomme van 18 en 35 jaar is welkom om aansoek te doen om ‘n skeidsregter in die Namibiese Rugby-skeidsregterakademie te word. Belangstellendes kan Jannie de Beer by jannie.d@curro.co.za vir verdere inligting en aansoeke voor 5 April 2024 kontak. Daarna sal opleiding deur die SARU-skeidsregters gereël word.


Marlise Izaaks

Related Post