FAO bied raad aan Namibië in tye van droogte

FAO bied raad aan Namibië in tye van droogte post thumbnail image

17 Mar. 2024


Die situasie wat Namibië met droogte ervaar, is algemeen in Suider-Afrika. Dit is die woorde van die Voedsel en Landbou Organisasie (FAO) se sub-streek koördineerder, Patrice Talla. Talla het in ‘n onderhoud met Kanaal 7 gesê Zambië het reeds ‘n noodtoestand afgekondig weens droogte en die impak wat deur daardie land in die gesig gestaar word. Hy sê die FAO is bewus van die situasie in Namibië en werk saam met die regering om dit te oorkom. Een gebied waaraan daar gewerk word, is om boere aan te moedig om gewasse te plant wat beter geskik is vir droë toestande, soos byvoorbeeld pêrelgiers. Nog ‘n samewerkingsgebied is om klimaatslim landboupraktyke aan te neem. Talla sê boere moet opgelei word op die gebied van klimaatslim landboupraktyke soos bewaringslandbou. Die derde aspek van hul werk handel oor waterbesparingspraktyke en laastens ondersteun die FAO boere met droogtebestaande voeropsies en ander innoverende opsies soos hidroponika.



Die Voedsel en Landbou Organisasie (FAO) erken verder die deurslaggewende rol wat jongmense in die toekoms van landbou kan speel en bied daarom programme aan wat jong Namibiërs kan bevoordeel. Die FAO se sub-streek koördineerder sê een van hierdie programme is die Jeug in Agri-besigheidsinisiatief, om jongmense aan te spoor om agri-besighede op die been te bring. Nog ‘n program wat op die jeug fokus, is skole om praktiese opleiding aan jongmense oor volhoubare landboupraktyke te verskaf. Verder is die doel van nog ‘n program om jongmense bekend te stel aan nuwe tegnologieë in digitale landbou. Talla het voorts lande aangemoedig om ‘n gees van samewerking en vennootskap aan te neem.

Die FAO is ‘n gespesialiseerde agentskap en die toonaangewende globale Verenigde Nasies agentskap wat werk om lede te help om honger en wanvoeding te oorkom. Dit ondersteun lande om voedselsekerheid en voeding te verbeter, met werksaamhede wat strek oor die hele landbouvoedselstelsels.


Marlise Izaaks

Related Post